Monday, 20 June 2011

Kenmare - Ierland



Dit was so lekker om my familie te sien. Ek het amper my sussie omgehardloop van blydskap. Adri en Tom bly in 'n pragtige visserman cottage in die skilderagtige dorpie Kenmare in die Suidweste van Ierland.

Vir 2 dae lank het ek net geslaap (en geeet) Ek het so lank laas 'n bord gekookte kos voor my gesien. Ek het meestal op piesangs, koekies en yoghurt oorleef.

Ek en Adri is uit met die boot Seafari. Dit is so koud, maar gelukkig bedien hulle koffie en koekies!! op die boot. Ons is in stormagtige winde uit om na Robbe te gaan kyk. Blykbaar is hulle kraamtyd in Julie. Ek het nogal gewonder hoekom hulle so lekker vet is.

Die res van die tyd het ons geeet tot ons vaak word en geslaap tot ons honger word. Nes studente. Ek en Adri het elke aand in die feetjie-woud gaan stap. Dit word eers na 10uur in die aande donker.

Die tyd het verby gevlieg en more oggend 7uur kry ek weer my vlug na Manchester.

Saturday, 18 June 2011

Parys

Ek is met die sneltrein vanaf Geneve na Parys. So 3 ure.
In Parys se treinstasie aangekom -Gare de Lyon was dit vir minstens 2ure chaos om net te probeer uitvind hoe om by my slaapplek uit te kom. Dit was die naaste wat ek aan paniek gekom het. Na al die spook en spartel is ek uiteindelik op 'n ondergrondse trein. Ek sit nog so en myself jammer kry toe hoor ek die lieflikste musiek. Dit was 'n treinmusikant wat die saxofoon speel. Dit het my gemoed so goed gedoen.

So teen 8:30 die aand is my bedjie opgemaak en is ek weer strate toe. Teen die tyd begin ek Parys se ondergrondse treine so 'n bietjie verstaan. Nou Eiffeltoring toe. Daar is ontsaglik baie mense wat in elle-lange toue staan. Ek val toe maar in. So is ek letterlik skuifel-skuifel tot bo in die Eiffeltoring en weer onder uit. Ek kom so 12:30 weer terug by die hostel.

Die volgende oggend is ek douvoordag weer uit oppad Louvre toe. Dit is Sondag en sommige van die treine loop nie soos gewoonlik nie. Weer chaos in my binneste. Uiteindelik is ek in by die Louvre. Wat 'n ondervinding! Ek is seker mens kan vir dae lank daar ronddwaal sonder om een keer dieselfde kunswerk te sien. Net soos met die Eiffeltoring is dit so 'n groot oomblik toe ek vir die eerste keer die oorspronklike Mona Lisa sien. Dit is welliswaar oorbevolk tot so 'n mate dat ek net my kamera in die lug steek en neem. Hoop vir die beste.  Ek het vir ure rondgeloop en later die duurste botteljie water gekoop (R35)

Daarna is ek na die Sacre-Coeur en Montmatre. Nog steeds ongelooflik baie mense, maar ek beur maar my pad oop vir my persoonlike ondervinding. Montmatre het 'n lekker kunstenaars atmosfeer. Ek neem maar my fotos so in die loop. Die aand gaan slaap ek lekker vroeg. Baie uitgeput.

Maandagoggend is ek gou Notre Dame toe. Baie verbaas om te sien dat die toegang gratis is. Dit is natuurlik ook ongelooflik. Ek het groot respek vir vakmanne van daardie tyd. Die detail slaan mens se asem weg.Die middag is dit die tog Charles de Gaulle lughawe toe, en weg met die vliegtuig Ierland toe.     

 

Thursday, 16 June 2011

Vevey - Switzerland

Ek het 'n paar benoude oomblikke op Nice lughawe gehad. Daar was 'n dramatiese ontruiming en almal het in alle rigtings begin hardloop. Ek weet nou nog nie wat die krisis was nie, maar ek het darem my vlug op tyd gehaal.

Ek glo dit moet baie help as mens die land se taal kan praat, ek het ook al baie verleenthede beleef omdat ek regtig nie verstaan wat hulle vir my se nie. Dit laat mens nogal totaal dom voel. So het ek bv 'n 'time-table' ipv kaartjie vir kondukteur op die trein gegee. Ek ken net 'n paar franse sinne, en een van hulle is, dat ek nie frans verstaan nie. Ek ken darem sleutelwoorde soos: stasie, trein  ens.

Sjoe, Vevey is pragtig! Die hostel is reg langs die Geneva-meer met 'n uitsig wat skrik vir niks. Die eerste aand deel ek die kamer met 3 sjinese meisies. Dink net hoe klink dit as hulle lekker aan die gesels is.


 Die volgende oggens is ek met 'n boot na die Chateau de Chillon (kasteel) toe. Ek besluit toe om terug te stap. Daar is 'n paadjie wat heeltyd langs die meer kronkel. Die plek is baie skoon en die tuine is presies. Dit was so 'n 9km stappie. Groot gedeelte is in die koelte en orals is daar bankies om te sit. My 'lunch' vandag is 'n blok switserse sjokkies en 'n beker water. Baie basies maar lekker. Dit het my die heel dag gevat om terug te loop, want langs die pad is daar oa.'n volley-ball kampioenskap en straatmarkte en dan natuurlik baie mense om dop te hou.

'n Mens is heeltyd bewus van die skepping want waar jy kyk is dit mooi. Ek het heerlik gebly in Vevey, alhoewel ek baie min  het. geselskap gehad het.

Saturday, 11 June 2011

Nice Cote d'Azur en Monaco -Monte Carlo


In Nice het ek in 'n uiters dig bevolkte en raserige hostel tuisgegaan. Die plek het my skoon oud laat voel. Dit is egter 'n pragtige gerestoureerde klooster en die atmosfeer is lekker. Nou moet ek besluit of ek Monaco of St Tropez toe moet gaan. Op die ou end het Monaco vir my eenvoudiger gelyk in terme van busse en treine.

Die volgende oggend is ek soontoe met 'n oorvol bus. Ek het heelpad aan 'n paal gehang en net probeer om op my voete te bly. Die pad is kronkelend en die 'scenery' is asemrowend, maar kans vir fotos is daar nie. Ekke swaai te veel. Op 'n stadium is ons verby 'n plekkie nl "petite-afrique" Daar is so 'n paar afrika patroontjies op die mure geverf, maar daar stop die afrika-geit.

In Monaco aangekom het ek eers dadelik op 'n bankie platgeval en my kossies geeet (Choc koekies en winegums - moet darem bietjie vrugte ook inkry) Toe na die paleis toe. 'n Mens mag verby die paleis loop maar jy mag nie stilstaan nie. Sien foto van wagte. Meeste van die geboue is Salmon-pienk geverf. Daar is orals paadjies deur tuine en bankies waar jy kan sit. Natuurlik moet jy betekenisvolle bydrae gee elke keer as jy toilet toe gaan. Sjoe, ek het dit nie in my begroting ingewerk nie.

Dit was 'n heerlik rustige dag van rondloop en foto's neem.

Tuesday, 7 June 2011

Genova en Portofino

Dit is weer 'n lang pad na Genova, weereens 4 treine wat ek moet vat. My eerste trein is 9:30, maar so 10min voor ek vertrek kondig hulle (in Italiaans) aan dat die trein 50 minute laat gaan wees! Dit lol, want al my treine daarna loop op tyd. Rozanne kom tot my redding en ons jaag Udine toe om kaartjies te verander.

Ek het taamlik maklik verdwaal tot by my hotel in Genova. Dit is 'n interessante hawestad met baie palmbome en 'n koloniale gevoel. Baie verskillende nationaliteite.

Volgende oggend is dit Portofino toe. Een van my eerste skilderye was van Portofino, en ek kan nie wag om die plekkie te sien nie. Ek mis egter my eerste trein en wag 'n uur vir die volgende trein. By Santa Marghareta Lingua moet ek afklim en dan met die bus Portofino toe. Santa Marghareta is so 'n mooi skoon stad. Byna al die geboue het verftegnieke op. Baie kleurvol.

Die busrit Portofino toe is taamlik stressvol , want dit is 'n baie nou paadjie aan die kant van die berg, en met plekke so smal dat die busdrywer moet toeter blaas om karre van voor af te waarsku. Die bus laai ons op 'n sentrale punt af, want geen voertuie word in die plekkie toegelaat nie.

Portofino is 'wow'. Ek gryp dadelik my kamera en neem tot vervelens fotos van die skilderagtige hawe'tjie. Later is ek op met die berg om nog fotos van dieselfde hawe'tjie te neem. Kos en koffie is egter onbetaalbaar duur, ek het 2 piesangs en 'n kopseerpil vir middagete gehad. Die kopseer is agv uiters lae kaffeien-vlakke.

Terug in Genova het ek dadelik koffie en broodjie gekoop en toe vir 3ure duskant bewusteloos op die bed neergeval.

More oggend vat ek die pad Nice toe.

Venesie

Ek en Rozanne kry 7uur ons eerste trein na Venesie. Dit is Rozanne se 60ste trip na Venesie. Toe ons daar arriveer verstaan ek hoekom. Dit is prentjie-mooi en natuurlike begin ek dadelik fotos neem om te skilder. Ek beproef Rozanne se geduld met die 300+ foto's wat ek neem. Sommige fotos wonder ek wat wou ek nou eintlik hier afgeneem het. Later het ek sommer die kamera so omhoog gehou en gemik en druk.

Dit is Saterdag in die middel van die toeriste seisoen en die mense vertrap mekaar. Boonop is dit so warm dat die kraaie gaap. Gelukkig weet my vriendin waar 'n supermark is, want kos en drinkgoed is vrekduur. Ek en sy koop toe sommer broodrolletjies, kaas en vleisie en gaan sit op die eerste en naaste trappies en eet ons kos. Heerlik.

Ons loop ons pad oop na San Marco's Square tot by die waterfront en weer terug.

Ons kom so 7uur by die huis. Baie warm en baie moeg, maar ek kan nie wag om fotos te kyk nie. Die dag se dinge is egter nog nie op 'n ent nie. Nou eers gou na 'n outydse Italiaanse dorpie Venzone. Nog foto's. Dit is werklik 'n pragtige plekkie veral met die berge in die agtergrond.

Uiteindelik! Salig ek kan gaan slaap. 

Sunday, 5 June 2011

Florence of Firenze

Met nog 'n Cuppuchino en chocolate croissant agter die blad, vat ek die pad Florence toe. Aangekom by Santa Maria Novella stasie, is dit weer die groot soek na my nuwe blyplek. Die Italianers is regtig nie baie behulpsaam nie, en verbasend min kan my in engels help.

Florence is 'n mooi stad en is nogal skoner as Rome. Ek besluit om die 400+ trappe te klim van die Campanille-toring. Nadat ek uiters uitasem en vele 'russe' bo kom, is ek reg vir my knie vervanging.
Die uitsig en die koffietjie maak weer op vir die swaarkry. Dit lyk my dit is die huisadres van Pinocchio, want oral sien jy smouse wat met die poppe speel. Nadat ek my 2daaglikse yskasmagneet gekoop het, is ek klaar met Florence.

Die volgende oggend 7uur vat ek my eerste trein Venesie se kant toe. Die trein-ryery is nogal erg stressvol, want ek moet 4 treine tot op Gemona del Friuli vat. Met tye is daar net 7min kans om die volgende trein te vind. Al wat ek vir ontbyt kon koop is 'n pakkie rosyntjies. Gelukkig het 'n yankee, wat ek langs die pad ontmoet het, my ontbyt aangevul met grondboontjies en 'n lemoen.

Ek was so bly om my vriendin Rozanne te sien. Ons tweejies gaan more saam Venesie toe.

Tuesday, 31 May 2011

Alle paaie lei na Rome...

'n Baie warm en bedompige Rome begroet my. Ek is met die Leonardo Express tot by Roma Termini. Alles is maar bietjie vuilerig en orals ruik dit na piepie. (Italianers het seker swak blase). Die hotel se naam is Hotel Beautiful, maar dis glad nie so beautiful nie. Baie afgeleef. Ek en mede-kamerbewoner is soos skepe in die nag, een kom laat in en ander een gaan vroeg uit. Die heerlike geur van vars koffie maak op vir baie dinge. My kamer is bo-op 'n regte Italiaanse koffiewinkel. Die ontbyt bestaan uit 'n supervars croissant met koffie van jou keuse. Heerlik. Daarna op die Hop-on, Hop-off. Baie sights, baie scenes. Op 'n stadium hoor ek die ou voor my in die bus praat engels met die toergids, en wraggies, daai SA aksent onderskei ek dadelik. Heerlik Afrikaans gepraat en gekuier saam met Dries en Arona le Roux van Strand/Carnavon omgewing. Was juis gisteraand so homesick. Dit is erg duur op toilet toe te gaan, ek het heeldag geknyp, maar het toe maar later die R7 betaal vir bietjie verligting. Vrek duur en toe sonder seat!
Nou ja, sien uit na more-oggend se koffie en Croissant en daarna op trein spring na Florence. Dit sou gehelp het as ek geweet het dat Florence en Firenze een en dieselfde plek is...

Sunday, 29 May 2011

Santorini


My tog Santorini toe was nie sonder probleme nie. Daar is blykbaar 'n spul agentskappe wat die ferries boek, en as jy deur internet geboek het, is dit bitter moeilik jou kantoortjie op te spoor vir die kaartjies. Ek vertrou nie meer 'n Griek wat vir my se dit is 'just round the corner' nie. Dit is nie. Veral met al my besittinkies op my rug is dit nie maklik om so rondgestuur te word nie. Daarna moes ek (letterlik) rondom die hawe loop om te Ferrie te kry. Die ferrie is nogal luuks binne, die rit het so 7 ure geduur, en ek het heerlik gesels met 'n bulgaarse vrou.'

Ek het so 10uur die aand in Santorini aangekom, en die eienaar van die hotel het my ingewag met 'n enjintjie. Ek het eers die volgende geskrik toe ek die pad sien wat ons gery het. Dit is ontsettend styl met kort haarnaalddraaitjies. Boonop ry die klomp mos aan die verkeerde kant van die pad!

By die hotel aangekom, wag "Poppy" ons in. Sy is die nekkie van die plekkie. Vir ontbyt bied Poppy my 'n omelet aan. Net nadat ek ingestem het daarvoor, se sy nee, gebakte eiers is lekkerder, ek se dis reg. Op die ou end kry ek Scramble Eggs. Ek vermoed Poppy is nie so goed met die omelet-ding nie.

Daarna is ek op 'n dagtoer. Eers by 'n klooster gestop, toe by 'n tradisionele village (waar ek Suid-Afrikaners raakgeloop het), daarna is ons weer af boot toe. 'n Vulkaniese eiland besoek en toe by 'n ander eiland gaan eet. Heel laaste is ons na Oia toe, waar ons 'n ongelooflike sonsondergang beleef het. Ek het vriende gemaak met 'n Australianer en 'n Phillipyn. Ons het heeldag grappies gemaak en fotos van mekaar geneem, maar aan die einde van die dag was die vriendskap net 'a moment in time'. Elkeen gaan dan weer sy eie rigting en ons sal mekaar nooit weer sien nie. Nietemin lekker, daar is nie spanning van eerste indrukke nie.

Vanaand is ek terug in Athens, waar ek more-oggend die vliegtuig kry Rome toe. Ek hoop ek vind my slaapplekkie vir more-aand maklik.







Friday, 27 May 2011

Awesome Athens

Athens is amazing. Dit was 'n groot oomblik toe ek by die plek kon staan wat Paulus destyds die Atheners toegespreek het. 'n Mens kry groot respek vir die Grieke, hulle was hulle tyd ver voor. Ek was op 'n staproete saam met ander Backpackers. Natuurlik het dit begin reen net toe ons die berg uit is, en sowaar is daar smouse met sambrele. Een van hulle het my jammer gekry en vir my 'n sambreel in die hand gestop en wou nie geld vat nie. Was nogal bly. Gisteraand het ons die griekse naglewe bietjie beproef en alles was heel skaflik. Het 'n vinnige draaitjie by 'n Jazz-festival gemaak en kilometers gestap. Gelukkig het Adriaan (die Suid-Afrikaner wat ek hier ontmoet het) die stad goed geken, so ek kon net ontspan en geniet. Die Grieke is nie baie goed met die koffie-ding nie. Ek is nou oppad hawe toe om my ferrie Santorini toe te vat. Ek voel partykeer bietjie verlore, want alles is Grieks vir my.

Wednesday, 25 May 2011

Onder die aswolk uit!

Ek is vanoggend so 5:15 by die huis uit, Antie is toe wakker en sy wil brekvis, ma hierie ennie stop nie vandag nie. My goedjies is gepak, en het aan alles gedink, vitaminepille vir in case ek nie kos kan koop nie...opwen flitslig...dehidrasiepille...superglue vir in geval een van my valstanne afbreek... Die sekuriteit was erg streng op Manchester lughawe, maar ek was baie verlig dat altwee vliegtuie op tyd was.

Op Brussels lughawe het ek vir my 'n droe bun gekoop en ongeveer R13 daarvoor betaal! Duurste broodjie ooit. Ek het ook die interessante ondervinding gehad om Pringles te eet terwyl ons oor die Switzerse alpe vlieg. Het nog sneeu op gehad.Ek het vandag deur 2 tydsone gevlieg.In Engeland was ek 'n uur agter, in Brussels was ek op tyd, in Athene is ek nou weer 'n uur voor pe-we.

Die treine was taamlik verwarrend in Athene, maar ek het gou pelle gemaak met mense wat na dieselfde stasie as ek gaan. Amper oorlas van myself gemaak. Die backpackers is nogal skoon en netjies-erig, en hulle het gratis WiFi. Ons slaap 4 mense in 'n 'dorm', en wie is toe die eerste kamermaatjie wat instap - 'n Suid-Afrikaner. Ons het mekaar amper omhels. Boonop kom ons albei van Kaapstad-omgewing.Hy het sommer dadelik op my bed kom sit en kopstukke gesels. Ek kan nog steeds net nie sy naam onthou nie, maar ons praat dieselfde taal.

Dit is nou net na 12 hier, so ek gaan maar bietjie slapies...

Monday, 23 May 2011

Alweer 'n aswolk!

Ek kan nie glo dat ek alweer elke 10min kyk na die aswolk se beweging nie. Skoon maagpyn van pure spanning. Met laasjaar se aswolk was ek oppad Turkye toe. Ook nie geweet of ek kan vlie voor so 'n paar uur voor die tyd nie. Hierdie keer het ek nie 'n plan B nie, en ek sal maar moet uitkamp by die lughawe.
Laat ek gou weer loer of daar nuus is......☺