Saturday, 18 June 2011

Parys

Ek is met die sneltrein vanaf Geneve na Parys. So 3 ure.
In Parys se treinstasie aangekom -Gare de Lyon was dit vir minstens 2ure chaos om net te probeer uitvind hoe om by my slaapplek uit te kom. Dit was die naaste wat ek aan paniek gekom het. Na al die spook en spartel is ek uiteindelik op 'n ondergrondse trein. Ek sit nog so en myself jammer kry toe hoor ek die lieflikste musiek. Dit was 'n treinmusikant wat die saxofoon speel. Dit het my gemoed so goed gedoen.

So teen 8:30 die aand is my bedjie opgemaak en is ek weer strate toe. Teen die tyd begin ek Parys se ondergrondse treine so 'n bietjie verstaan. Nou Eiffeltoring toe. Daar is ontsaglik baie mense wat in elle-lange toue staan. Ek val toe maar in. So is ek letterlik skuifel-skuifel tot bo in die Eiffeltoring en weer onder uit. Ek kom so 12:30 weer terug by die hostel.

Die volgende oggend is ek douvoordag weer uit oppad Louvre toe. Dit is Sondag en sommige van die treine loop nie soos gewoonlik nie. Weer chaos in my binneste. Uiteindelik is ek in by die Louvre. Wat 'n ondervinding! Ek is seker mens kan vir dae lank daar ronddwaal sonder om een keer dieselfde kunswerk te sien. Net soos met die Eiffeltoring is dit so 'n groot oomblik toe ek vir die eerste keer die oorspronklike Mona Lisa sien. Dit is welliswaar oorbevolk tot so 'n mate dat ek net my kamera in die lug steek en neem. Hoop vir die beste.  Ek het vir ure rondgeloop en later die duurste botteljie water gekoop (R35)

Daarna is ek na die Sacre-Coeur en Montmatre. Nog steeds ongelooflik baie mense, maar ek beur maar my pad oop vir my persoonlike ondervinding. Montmatre het 'n lekker kunstenaars atmosfeer. Ek neem maar my fotos so in die loop. Die aand gaan slaap ek lekker vroeg. Baie uitgeput.

Maandagoggend is ek gou Notre Dame toe. Baie verbaas om te sien dat die toegang gratis is. Dit is natuurlik ook ongelooflik. Ek het groot respek vir vakmanne van daardie tyd. Die detail slaan mens se asem weg.Die middag is dit die tog Charles de Gaulle lughawe toe, en weg met die vliegtuig Ierland toe.     

 

No comments:

Post a Comment